Jesaja 55:11 "so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur"  
Inspirasie

Die Heer is met ons elke oomblik van die dag

Matt: 28:20 " En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.Amen"

Jesus praat hier met die elf dissipels in Galilea, na sy opstanding. Hy gee aan hulle die opdrag om dissipels te maak van al die nasies (Matt 28:19). Hy stuur hulle egter uit met die versekering dat Hy met hulle is tot aan die voleinding van die wêreld. Hierdie bevestiging van Sy heerlikheid en krag wat met hulle is, word ook vir ons as Sy volgelinge gegee.

Dit gebeur van tyd tot tyd met elke christen dat hy alleen voel en dan hoor jy mense sê dat ons eendag Jesus weer met ons sal hê. Die Skrif dui egter aan dat die Heer elke oomblik met ons is. Dit is hoegenaamd nie nodig om te bid - Heer wees met ons vandag nie. Hy is met ons. Ons moet wel bid vir Sy Gees van onderskeid tussen reg en verkeerd, vir Sy versterking. Ons moet bid vir Sy Gees se leiding en dat ons Sy stem herken. Hoe herken ons Sy stem? Ons herken dit deur naby aan Hom te loop, in gebed te wees, in 'n liefdesverhouding met die Heer te stap - om Sy wil te doen. Gereelde gesprek met die Heer is so belangrik om te kan groei. Onthou ons stryd is nie teen vlees nie maar teen gees (Eff.6). Die Heer rus ons toe om hierdie stryd van geloof te veg wanneer ons afhanklik word van Hom en ons oë op Hom rig.

Daardie tye wanneer jy voel dat jy alleen is, gaan terug na hierdie vers en weet dat God kan nie lieg nie en staan in die waarheid dat Hy elke oomblik by jou is. Hy is selfs deur die diepste waters met jou. Kyk na Jesaja 43:2 "As jy deur die water gaan, is Ek by jou: en deur die riviere - hulle sal jou nie oorstroom nie..." Daar kom tye wat ons in die middel van storms staan, wanneer ons breë riviere moet kruis wat alte dikwels diep is. Dit lyk soms of die take wat voorlê vol gevare is - en soms is dit ook so. Wees vertroud in die Heer dat Hy jou nooit sal verlaat nie, dat Hy jou nie iets sal oplê waarvoor Hy jou nie toerus nie. Liefste vriend, dit is wonderbaar om te weet dat Hy met jou en my is, dat ons krag van Hom put, vertroosting en rus, vrede in ons gees. Alle angs wyk wanneer ons Sy Naam aanroep - Selfs die natuur is ondergeskik aan Hom - die Formeerder van hemel en aarde. Roep Hom aan in tye van stilte en alleenheid, bedroefdheid en in tye van blydskap en triomf.

Loof Hom, my siel Loof die Naam van Jesus ons Herder, wat nimmereindig is tot aan die voleinding van die wêreld. Verkondig Sy Naam en bring hoop vir elkeen wat verdwaal is. Bring die goeie boodskap na almal - Jesus is by ons. Roep Hom vandag aan en ervaar Sy genade en liefde.

Toestemming word verleen vir herdruk en verspreiding, op voorwaarde dat onderstaande woorde daarby verskyn:

Toestemming is deur Glory2Jesus verskaf vir herdruk van hierdie artikel. Besoek ons blad by http://www.Glory2Jesus.co.za vir nog christelike leesstof. Geen veranderinge mag aan die inhoud gemaak word sonder die toestemming van die skrywer nie. Geskryf deur Isebell Gauche.

Back to Main Page

Background:Wendy's Backgrounds