![]() |
Jesaja 55:11 "so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur" |
|
Inspirasie
|
|
Wie is in beheer? Ons skuur so gereeld skouer met vreemdelinge. Mense met gesigte wat niks spreek nie. Ons gesigte is ook soms net so uitdrukkingloos en bleek soos 'n koue wintersdag. Sonder lewe. Tog, net soms is daar iets wat ons laat stop en twee maal na iemand kyk. Is dit omdat hulle besonders mooi is of dalk vreemd aangetrek? Of is dit bloot 'n glimlag wat die saaiheid onderbreek, 'n uitgestrekte vriendskapshand, 'n glinster in die oog, 'n stille ervaring van een in gees, of 'n ek weet waar jy nou is, jy is nie alleen nie, begrip sonder woorde ... of dalk gesels voor die verkeersdepartement vir drie ure terwyl ons wag vir die deure om oop te maak en dit sonder om mekaar se name te vra. Dan gaan ons uitmekaar en ons is spyt - die tyd is om - vaarwel aan jou, mag ons weer ontmoet. Ons het drie ure in mekaar se lewens gedeel en dit was elke sekonde van wag werd. Het jy dit al beleef? Wat? Dat wanneer jy nog so loop en moedeloos is, en bid vir krag en die volgende oomblik, maak jy oogkontak met 'n vreemdeling wat net so moeg is, en julle glimlag en dit is soos 'n elektriese golf wat julle vul met nuwe krag, genoeg om nog vele meer te belaai met hoop. Het jy al gedink aan gebede wat beantwoord is.. nie die waar jy op jou kniee geswoeg het nie, maar die wat jy sommer so in die loop gebid het, kort sinne van Here laat dit... dankie. En dan word dit so wonderbaarlik beantwoord. Daardie gebede wat ons hele dag vul met klein en groot wonderwerke. Daardie wat jy dink, maar ek het dan skaars gevra? Dit is sulke tye wat jy in die middel van die straat sommer op jou kniee wil gaan en roep: Hoe groot en wonderbaar is U! Dan is daar die tyd wat dit voel of jy wegdryf van die Heer, jy roep soos 'n drenkeling - Help Heer! En dan bid iemand in Skotland - duisende kilometers weg en jy staan op met 'n honger vir Jesus groter as enige hongerpyn wat jy op aarde kan beleef. Hoe groot is U o Heer! Jy bid - Heer gee my 'n inspirasie en hier sit jy voor die rekenaar en skryf sommer net - sonder moeite. Wat is dit wat ons laat dink dat daar iets is waaroor ons enige beheer het? Wat is dit wat ons so verwaand maak om te dink, ek kan my lewe se uitkoms bepaal. Dit is presies wat ons doen, wanneer ons tot God bid en dan poog om uit te werk hoe Hy dit moet doen. Ek het nie eers die vermoë om God te prys uit my eie nie - hoe kan ek bid, sonder die leiding van die Heilige Gees, selfs om God lief te hê kom nie uit my nie. Die Heer het ons gemaak om Hom te soek, dit is Hy wat Sy liefde in ons harte uitgestort het, die Heilge Gees in ons antwoord op Sy liefde. Wie ken jy, wat al ooit die Heer Koning van sy lewe gemaak het, sonder dat die Heilige Gees hom of haar getrek het? En dan is ons so vermetel om te dink dat daar areas is wat ons kan reserveer vir ons self, dit wanneer Jesus niks van Homself uitgelaat het nie. Daar is die talle profesiee wat oor ons uitgespreek is, waaraan ons so hard kan werk en dan gebeur daar niks. Ons wil naderhand niks meer hoor nie en dan is daar die wat ons net ontvang het en nooit weer aan gedink het nie, en dan kom dit waar, so sonder enige arbeid en so onopsigtelik , ons mis dit dikwels. Dit is eers wanneer ons stil word voor God dat Hy ons wys hoeveel reeds waar geword het, want sal Hy iets sê en dit nie doen nie? My gevolgtrekking na alles is eenvoudig - om God te vertrou is al wat ons benodig, as ons Hom vertrou , toon ons ons liefde en sal ons gehoorsaam wees, sal ons nie poog om Sy guns te wen nie, maar sal ons weet dat ons reeds Sy guns het, soveel so, dat Jesus vir ons gestef het, sodat ons God se volle liefde kan beleef. Ons kan Hom net vertrou as ons Hom ken, en ons kan Hom net ken as ons ons oorgee aan Jesus, want uit ons self is dit nie moontlik nie. Eer aan Jesus. Toestemming word verleen vir herdruk en verspreiding, op voorwaarde dat onderstaande woorde daarby verskyn Toestemming is deur Glory2Jesus verskaf vir herdruk van hierdie artikel. Besoek ons blad by http://www.Glory2Jesus.co.za vir nog christelike leesstof. Geen veranderinge mag aan die inhoud gemaak word sonder die toestemming van die skrywer nie. Geskryf deur Isebell Gauche. |
Background:Wendy's Backgrounds