Jesaja 55:11 "so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur"  
Inspirasie

Bome van Redding

Jesaja 61:3 "Hulle sal genoem word Bome van Redding.."

God het ons geplant om sy roem te vermeerder (Vers 3 - Nuwe Vertaling).Hy sê dat ons Sy kinders genoem sal word -Priesters van Sy Koningkryk - dienaars van God. God het 'n ewige verbond met ons gesluit deur Jesus. Die verbond staan vas want dit is geseël met Jesus se bloed (Jes.61:8).

Kyk na die bome. Dit bied skadu aan al die diere, 'n plek van rus vir die mens, dier, voël en insek wat moeg en uitgeput is. Die bome gee lewe aan ons hier op aarde deurdat dit suurstof afskei. Hierdie suurstof is lewensnoodsaaklik vir ons almal - daarsonder bestaan niks. Bome verskaf voedsel van waarde vir klein en groot. Voeding word verkry deur sy blare, vrugte en selfs sy stam. Hierdie voeding gee nuwe krag en dra by tot groei. Die boom se takke is die woonplek vir voëls - 'n veilige hawe waar kleintjies groot gemaak word. Die wortels is geanker in vrugbare grond.

Die Here Jesus is ons Boom van Redding, by Hom vind ons skuiling, vind ons voeding deur Sy Woord sodat ons kan groei in geloof. Jesus is onwankelbaar - dit is veilig by Hom. Hy beskut ons teen die aanslae van die bose soos die boom beskerm teen aanslae van die natuur. Hy bied die suurstof wat nodig is vir lewe. In Hom groei ons deur die vrugte van die Gees

Let daarop dat God ons, die volgelinge van Jesus ook Bome van Redding noem. Ons is geplant in vrugbare grond wanneer ons in Jesus bly. Ons verkry ons voeding vanuit Sy woord sodat ons vrugte kan dra, 'n redding kan wees vir die hongere. Ons bied huisvesting vir die hawelose soos Jesus, rus vir die moeë, skadu teen die hitte, sterkte vir die ontmoedige. Ons self lewe slegs vanuit Jesus - sonder Hom is ons dood.

Is jy moeg, honger,alleen, verstote, bang, haweloos? Neem vandag skuiling by die Heer, leef vanuit Sy Woord, eet van Sy vrug, bou jou tuiste in Sy takke tesame met 'n hele familie van heiliges in die Heer. Onthou ons is slegs bome van redding wanneer ons in Jesus is - wanneer Hy in ons is deurdat ons Hom aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker. Ons kan slegs goeie vrugte lewer wanneer ons groei in Sy Woord - wanneer ons Hom volg. Wat 'n wonderlike beskrywing gee God nie aan die gemeente van heiliges nie? Ons is geplant om lewe te gee, nie vanuit ons self nie, maar deur die Here self.

Toestemming word verleen vir herdruk en verspreiding, op voorwaarde dat onderstaande woorde daarby verskyn

Toestemming is deur Glory2Jesus verskaf vir herdruk van hierdie artikel. Besoek ons blad by http://www.Glory2Jesus.co.za vir nog christelike leesstof. Geen veranderinge mag aan die inhoud gemaak word sonder die toestemming van die skrywer nie. Geskryf deur Isebell Gauche.

Back to Main Page

Background:Wendy's Backgrounds