Jesaja 55:11 "so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur"  
Inspirasie

Moses en die Brandende Bos

Lees Exodus 3 & 4

Moses nader die brandende bos en antwoord God se roep. God stel homself bekend"Ek is die God van jou vader, die God van Abraham..." Moses verberg sy gesig want hy is bevrees om God te sien. Hoekom? Hy weet dat geen mens God kan sien en bly leef nie, vanweë die feit dat die sonde die mens van God skei. God is heilig. God vertel van Sy volk en dat Hy hulle verdrukking gesien het, en dit Hom aanraak. Hy wil hulle verlos van die slawerny, van hulle verdrukking. Hy wil hulle lei na 'n land van oorvloed.Hy wil hulle verlos.

Jesus het ook gekom as Verlosser vir elkeen wat glo. Hy wil ons in oorvloed lei, lewe gee. As jy vasgevang is in 'n lewe van slawerny, sonde, verdrukking, eensaamheid,verwerping,pyn,hartseer,leegheid, weet dan Jesus het gekom om jou daaruit te verlos. As jy soek en vind dat die lewe sonder sin is, dan is dit ook so - sonder Jesus, buite Hom is daar geen lewe nie. Lees ook Johannes 1:1"In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Vers 2 :"Hy was reeds in die begin by God." Vers 3"Alles het deur Hom tot stand gekom:ja, nie 'n enkele ding wat bestaan het sonder Hom tot stand gekom nie.Vers 4"In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense."

God gee om. Hy gee soveel om vir jou in jou omstandighede dat Hy Sy Seun vir jou as Lam gegee het om geoffer te word sodat jy nie hoef te sterf nie, maar uit Egipte gelei kan word. God is geen aannemer van persoon nie, dit maak nie saak hoe ver jy van Hom verwyderd leef in sonde nie, Jesus het gekom om jou lewe te gee. Ongeag wat jy gedoen het.

Miskien leef jy 'n goeie lewe, een van kuisheid, vrygewigheid, goeie dade, gaan gereeld kerk toe, het in 'n godsdienstige huis groot geword, vloek nie, steel nie, drink nie, skinder nie - dit bring jou nie die ewige lewe nie. Jesus alleen is die brandende bos, Jesus alleeen het die prys aan die houtkruis vir jou betaal. Jy sal nooit al die wette dag na dag kan onderhou nie - en dit is swaar. Jesus het gekom om jou te bevry van die juk. Dit sê nie dat nou kan jy maar sondig soos jy wil nie, nee - jy is nou vry om Jesus te gehoorsaam en daarom God se wil te doen omdat jy Hom liefhet, meer nog omdat Hy jou liefgehad het lank voor jy gebore is. Jesaja 43:1"..Ek het jou op jou naam geroep" , 1 Joh 5:3 "Die liefde vir God bestaan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam"

Vriend, die dief is Satan en hy het net gekom om te steel en te verwoes en dood te maak, Jesus het gekom sodat ons lewe in oorvloed kan hê Johan. 10:10. Jy kan verlos wees van die slawerny en sal wees deur Jesus Christus aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker. Jy moet weergebore word om die ewige lewe te verkry.

Is jy wederbore? Joh. 3:3"Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie" Jy is natuurlik gebore, maar jy moet weer gebore word. Hoe is dit moontlik? Wanneer jy Jesus aanneem as Verlosser, sterf jou ou mens en verkry jy die Gees van God, dan word jy 'n kind van God.

Joh 1:12"Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word." Lees ook 1 Petrus 1:23"want julle is wedergebore.."

Hoe sal jy weet dat jy nou wedergebore is? God gee Sy Gees in jou hart 1 Joh 4:13" Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons Sy Gees gegee" 1 Joh 5:10 "Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in Sy hart."

Jy moet die Verlossing ontvang - Jesus ontvang 1 Joh. 5:12 "Wie die Seun het, het die lewe"

Almal benodig die vryspraak, want almal het gesondig.Rom 3:23"Almal het gesondig en is ver van God af.." Die sonde se uiteinde is die dood. Lewe sonder Jesus is 'n keuse vir die dood. Rom 6:23"Die loon van die sonde is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus onse Here."

Die Heer skenk die ewige lewe vir ons deur Sy genade want Hy weet ons kan nie die wet onderhou nie, Hy weet ons is verlore sonder Jesus en daarom het Jesus gekom om vir jou en my die prys te betaal.Hy het die sonde op Hom geneem, Hy het die prys vir jou en my betaal. Hy heilig ons. Deur Hom kan ons met vrymoedigheid die troon van God nader, is ons vrygemaak van die sonde.Die keuse is joune.

Kies Lewe bid saam met my hierdie gebed:

God ek erken dat ek 'n sondaar is en dat ek teen U gesondig het. Ek weet nou dat net U Jesus my Redder en Saligmaker is.Heer ek vra om vergifnis omdat ek teen U gesondig het. Ek vra Jesus dat u in my hart kom en my gees nuut maak, Ek neem U aan as my persoonlike Verlosser en Saligmaker, Ek erken dat U Jesus Christus die Seun van God is, en dat U vir my sondes aan die kruis gesterf het, en dat die ou mens van my ook nou aan die kruis gesterf het. Dankie Heer dat U my sondes op U geneem het, dat U bloed my nou reinig, dat ek skoon gewas is en nou 'n kind van God is. Dankie dat U Gees saam met my gees getuig dat ek nou U kind is, dankie vir lewe en oorvloed. Dankie dat al die ou dinge nou verby is, dat ek nou nuut is in U. Dankie vir die Ewige Lewe in U Seun Jesus Heer. Dankie God dat U Jesus opgewek het uit die dode en dat Hy die dood en sonde oorwin het, dat ek nou in Hom die dood en sonde oorwin het. Ek leef nie meer nie, maar U leef in my. Ek bely dit met my mond en glo dit met my hart soos in Rom. 10:8-10"...Naby jou is die woord in jou mond en in jou hart." En hierdie woord is die boodskap van geloof, en dit is wat ons verkondig:As jy jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.Met die hart glo ons, en word ons vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered" Dankie Heer ek is gered in U. Heer dankie dat U, U Heilige Gees in my hart uitgestort het, dankie Jesus dat U nou in my leef.

Jy is nou 'n wedergebore kind van God. Moet nooit weer daaraan twyfel nie. Vertel vir iemand, want kyk weer Rom 8:8-11. Bid elke oomblik wat jy kan, praat gedurigdeur met die Here, lees jou Bybel, die Here praat met jou daarin, dis voedend en daardeur leer jy God ken. Die Heilige Gees lei jou nou - Jesus is Koning in jou lewe, jy is nou beklee met Jesus en is versoen met God die Vader. Vind 'n Christelike gemeente. Indien jy hierdie gebed gebid het, epos ons asb by bible@glory2Jesus.co.za ons wil graag meer inligting vir jou stuur.

Welkom by God se familie!!

Toestemming word verleen vir herdruk en verspreiding, op voorwaarde dat onderstaande woorde daarby verskyn:

Toestemming is deur Glory2Jesus verskaf vir herdruk van hierdie artikel. Besoek ons blad by http://www.Glory2Jesus.co.za vir nog christelike leesstof. Geen veranderinge mag aan die inhoud gemaak word sonder die toestemming van die skrywer nie. Geskryf deur Isebell Gauche.

Back to Main Page

Background:Wendy's Backgrounds