![]() |
Jesaja 55:11 "so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur" |
|
Inspirasie
|
|
God stuur Moses Lees Exodus 3 & 4. Exodus 3:10" Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit." Dit is die opdrag wat Moses ontvang, maar hy stribbel teë. Hy sien nie dat hy net as instrument gebruik word nie en dat God hom die nodige leiding sal gee nie. Hy vra hoe sal hy dit kan doen? God antwoord hom dat Hy met hom is en gee ook die teken van Horeb waar die Israeliete sal aanbid as teken. Dit is nog nie genoeg in Moses se oë nie. Hy wil weet wat om te antwoord as hulle sal vra op wie se gesag hy praat. Hier gee God hom die antwoord "EK is" . God is dus die gesag. Moses ontvang verdere presiese instruksies en dan ook nog die antwoord op wat sal gebeur. Ex. 4:1 "Maar as hulle my nie glo nie..." God gee hom die tekens van die slang, melaatsheid en bloed. Moses soek nog verskoning. Hoe kan God my gebruik? Hy het dan 'n spraakprobleem. Hier gee God hom die versekering dat Hy sy mond sal wees. Moses het nogtans beswaar. God gee Aaron as hulp en nog die versekering dat Hy met beide sal wees. Moses dink nogsteeds nie dat hy so bruikbaar is nie en dat God liefs moet stuur wie Hy wil. God gee ook aan ons opdragte en soms lyk dit asof dit te groot is vir ons, miskien sal die mense nie na ons luister nie en wat dan nog van al ons tekortkominge. Ons dink dat God iemand meer bekwaam moet gebruik of iemand met meer ervaring. Ons ag God se woord te gering en slaan meer ag op menslike hulp as Syne. Klink dit bekend? Ons wil dan baie tekens hê, honderde bevestigings en as dit kon sou ons eerder net toekyk hoe God dit verrig. Ons sal wil, dat die Here sigbaar by ons moet staan vir gesag....? Eerstens is God almagtig en tweedens as Hy jou kies om 'n taak te verrig is dit omdat Hy weet dat deur Hom is jy tot alles instaat. Hy gebruik dalk juis jou om Sy heerlikheid te openbaar, juis omdat jy onervare is en nie op jou eie vermoëns sal kan steun nie, juis omdat jy weet dat die taak so groot is dat dit slegs deur God se krag, leiding en genade uitgevoer kan word. Hy sal jou nie sonder bevestiging laat nie. Hy kan dit op verskeie maniere doen deur Sy Woord, profetiese uitspraak, boodskap in die kerk, 'n vriend. Hy gee jou die opdrag en sal dus elke stap met jou wees. Jy moet net gehoorsaam en doen slegs wat Hy jou sê om te doen. Jy mag dalk dink waar sal die finansies vir die taak vandaan kom. Wanneer God 'n plan het, sal Hy ook die finansies daarvoor reël. Hy sal jou selfs die menslike hulp gee wat jy benodig. Weet dit, daar is reeds oorwinning. Kyk Numeri 23:19"....Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?" Lees ook Romeine 8:31"Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees?" Moenie jou so laag ag dat jy onbruikbaar is vir God nie. Al wat God benodig om jou te gebruik is dat jy gewillig is en gehoorsaam is om Hom te volg waarheen Hy ookal lei. Dank die Here omdat Hy jou waardig ag om die taak te verrig. Toestemming word verleen vir herdruk en verspreiding, op voorwaarde dat onderstaande woorde daarby verskyn: Toestemming is deur Glory2Jesus verskaf vir herdruk van hierdie artikel. Besoek ons blad by http://www.Glory2Jesus.co.za vir nog christelike leesstof. Geen veranderinge mag aan die inhoud gemaak word sonder die toestemming van die skrywer nie. Geskryf deur Isebell Gauche. |
Background:Wendy's Backgrounds