Jesaja 55:11 "so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur"  
Inspirasie

Kou aan die Woord

Jos 1:18: "Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel."

Psalm 77:13 "en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade."

Psalm 1:2 "maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag."

Ek het altyd gewonder hoe presies mens God se Woord oordink, bepeins en daarop mediteer. Dit is om Sy Woord te laat plek kry in ons harte, dit in ons gedagtes te dra en fyn te maal, dit te laat toepassing vind in ons lewens. Vandag veral word dit duidelik nadat my man my gevra het of ek iets het om te deel van dit wat ek vanoggend uit die Woord gelees het. My antwoord was, dat ek nog kou.

Sommige stukkies of dele is melkkos, maklik om te kou en te sluk en daarna te verteer asook op te neem in ons harte. Ander dele is vleiskos, dit verg fynkou. As ons dit bloot lees sonder goeie nadenke gaan dit verlore, dit sluk moeilik en daarom spoeg ons dit uit.

Ons lees of hoor 'n logos woord, wat 'n rhema woord in ons lewens word (verandering en groei bring), slegs nadat dit behoorlik in ons sisteem opgeneem is. Daarom dan dat dit so belangrik is om die Heilige Gees se leiding te vra en aan te gryp, te bid dat God Sy Woord vir ons oopmaak, te bid dat ons harte voorberei word en met verwagting van openbaring die Skrif te lees en aan te hoor. Wanneer ons oorhaastig 'n deel lees, kan ons tientalle kere dit lees en nogsteeds die boodskap mis. Soms ontvang ons die boodskap maar kou dit nooit fyn nie, ons verloor die voedingswaarde bloot omdat ons nie opoffering wil maak nie. Dit is amper soos 'n klein kindjie wat 'n stukkie vleis proe en uitspoeg of uit haastigheid daaraan verstik. Die vleis word nie opgeneem nie en geen groei vind plaas nie.

Ek wil vandag elkeen aanmoedig om nie net te lees nie, nie net te hoor nie, maar dit wat jy lees of hoor van God se Woord, te kou - daaroor te dink, dag en nag tot dit gesluk word en dit verteer word en as voedingstof op die ou einde groei bewerkstellig, sodat jou lewe verander en God jou kan gebruik om andere te help voer. God gee ook 'n belofte, dat dit ons handelswyse sal verander en voorspoed vir ons bring.

Toestemming word verleen vir herdruk en verspreiding, op voorwaarde dat onderstaande woorde daarby verskyn:

Toestemming is deur Glory2Jesus verskaf vir herdruk van hierdie artikel. Besoek ons blad by http://www.Glory2Jesus.co.za vir nog christelike leesstof. Geen veranderinge mag aan die inhoud gemaak word sonder die toestemming van die skrywer nie. Geskryf deur Isebell Gauche.

Back to Main Page

Background:Wendy's Backgrounds