Jesaja 55:11 "so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur"  
Inspirasie

Vertrou God vir die Onmoontlike

2 Konings 7:1-3 " Toe sê Elisa: Hoor die woord van die HERE! So spreek die Here: More omtrent sulke tyd sal 'n maat fynmeel 'n sikkel, en twee mate gars 'n sikkel kos in die poort van Samaria. 2) Maar die adjudant op wie se arm die koning geleun het, antwoord die man van God en sê:" Al maak die HERE ook vensters in die hemel, sou dit kon gebeur?3) En hy sê: Kyk, jy sal dit met jou oë sien maar nie daarvan eet nie" Lees ook 2 Kon. 6:24-33 en 2 Kon. 7.

Hierdie adjudant het gesterf toe die volk hom by die poort vertrap het. Hy het weens sy gebrek aan geloof, nie deel gehad aan die goeie belofte nie. Hy het dit gesien maar kon nie daarvan verkry nie. Sien jy al die wonderwerke en hoor daarvan maar dit verkry nie gestalte in jou lewe nie? Hierdie man het God bevraagteken, God wat nie kan lieg nie (Tit. 1:2).

Doen ons dit nie ook dikwels nie? Ons weet God is Almagtig, ons sien Sy wonders dag na dag en dan twyfel ons. Dit kan nie vir ons wees nie, dit is net vir mense wat deur God uitverkies is. Nee vriend, jy en ek is spesiaal. Ons is so spesiaal dat God Sy eie Seun nie gespaar het nie. Jesus het jou en my so lief dat Hy sy lewe vir ons afgelê het, sodat ons lewe in oorvloed kan hê - lewe in Hom. Die oomblik wat jy Jesus aangeneem het, is jy deel van al God se beloftes, jy is 'n kind van God.

Ons lees God se Woord waarin staan dat Hy ons nooit sal verlaat nie, en tog wanneer dinge moeilik gaan, twyfel ons aan Sy nabyheid.Hy sê in Joh. 14 dat alles wat ons in Sy Naam (Jesus) vra, ons sal ontvang. Waarom dan twyfel? Waarom dink dat iets is nie moontlik nie?

Ja, menslik sou dit nie moontlik wees dat kos die volgende dag in oorvloed beskikbaar sou wees teen daardie prys nie. By God egter is alle dinge moontlik. Dit is God wat die Israeliete uit Egipte gelei het, wat hulle oorwinning gegee het teen die Amelekiete (Eksodus 17:5), wat aan Hannah 'n seun besorg het, wat die aarde gekep het, wat Sy asem in ons geblaas het. Jesus het reeds elke belofte volbring met Sy dood en opstanding.

Glo jy in jou drome, en werk jy daaraan om dit waar te maak? As jy dan in die feilbare mens soveel vertroue kan plaas, hoeveel te meer nie in God wat Almagtig is nie?

Gebed: Heer ek bely dat ek dikwels meer vertroue in die sienbare geplaas het as in U, vergewe my asb.. Ek dank U vir U vergifnis en ontvang dit nou in Jesus se Naam. Heer, leer my om in U alleen te vertrou en maak aan my bekend U groot liefde en Almag. Amen

Toestemming word verleen vir herdruk en verspreiding, op voorwaarde dat onderstaande woorde daarby verskyn

Toestemming is deur Glory2Jesus verskaf vir herdruk van hierdie artikel. Besoek ons blad by http://www.Glory2Jesus.co.za vir nog christelike leesstof. Geen veranderinge mag aan die inhoud gemaak word sonder die toestemming van die skrywer nie. Geskryf deur Isebell Gauche.

Back to Main Page

Background:Wendy's Backgrounds