| |
Daar waar somergroen en lewe eens gepryk het
Met sonlig in groen plantasies en blommeprag,
Lê die kolle as teken van 'n tyd wat verstryk het
Blare en takke wat in najaarswind versmag.
Die groot simfonie van wind en bloeisels en blare
Het verander in 'n treurlied van 'n kale twyg
Teen die pers-rooi décor van 'n onverwagte mare,
Waar dit alle note van lewe moet verswyg.
Eentonig klink die wysie van die wind.
Deur die ruimte van die bossies in die veld.
Waar nou die skynsel van die lig gaan sterf.
My siel smag ook om eendag rus te vind,
Maar nooit by die valse geklank van geld,
Want daar sal my gees vir ewig nog swerf.
|
|