|
Na die ruimtes roep my siel vandag,
Waar die velde nog die gees regeer.
Sonder die bande van 'n verpligting
Van nietighede rondom my heen.
Selfs by die grootsheid van die somernag
Sink ek net ter aarde neer.
Niemand luister na die diep versugting
Geen sterfling hoor my as ek ween.
Kom teenspoed teen my aangesweef,
Sal ek nooit iets nog begeer
Van mensehulp in die vêr verskiet.
Laat my daar in die nag alleen.
Dan weet ek, niemand wat nog leef
Sal hom ooit na my paadjie keer
En my 'n lank-begeerde handjie bied,
Want elkeen moet sy eie lot beween.
Dan wil ek altyd maar 'n swerwer wees
Met die prag van najaarvelde in gesig
En die bloue hemel daarbo my paleis.
Met wolkestapels soos marmerbeelde.
Daar is plek vir my vermoeide gees.
In die glans van die suiwer sterrelig,
Wat teen die bloue najaarshemel wys
Na die rykheid van onbekende somerweelde.
|