Poetry

Gedigte

     
     
 

Gelei om die bos? Bereken, wat dit jou gaan kos!

– Annemarie Nolte (Mallotti Geplaas Julie 2008)

 
 

Dit is dwaas om toe te gee wanneer mense die heuningkwas gebruik;
die mooi broodjies moet jou onmiddellik lont laat ruik!
Fokus op jou doelstellinge moet jy nie verloor,
omdat strelende woorde jou ore momenteel bekoor.
Voor jy jou laat lei - om die bos;
moet jy eers bereken - wat dit wat hul van jou vra, gaan kos.

Het jy te gou jou woord gegee-
sal jy kosbare tyd moet prysgee.
Sonder om te dink, het jy jouself verbind;
die vleitaal het jou heeltemal verblind!
Die volle prys sal jy moet betaal,
anders eindig jou integriteit in die weegskaal.
Gooi jou gewig in met jou hele hart;
God sal dit ten goede laat meewerk vir jou part.
Jy kan nié bekostig om perspektief te verloor,
dis slegs die realiteit in God se Woord, wat waarlik bekoor.

Is jy van die tiraniese dwingelandy van mense se verwagtinge bewus?
Of het jy nog nie besef dat jy eintlik verslaaf aan menslike goedkeuring is!
Wees op jou hoede teen toevertrouing aan vriend of vyand se verwagting;
jou toegeeflikheid werf nie willekeurig mense se agting.
Terwyl jy aan hul giere voldoen vandag;
is die agting dalk môre nie meer van krag!

In Jesus se tyd wou mense Hom met geweld koning maak;
dieselfde mense het Hom met die woorde: "Kruisig Hom", versaak?!
Selfs David, die man na God se hart,
het hom nié laat indwing in dié soort van smart.
In die Woord het hy homself vertroos,
want hy't geweet mense se harte is boos.

Neem een tree op 'n slag.
God se Woord is jou lamp vandag!
Soek gedurig Sy wil in die Woord;
dan sal jy genoeg wysheid hê om te doen wat jy behoort
Die vrug van jou arbeid sal jy geniet;
terwyl die Engel van die Here self waghou oor jou grondgebied.
Jou vertroue in Hom, sal nooit wees - verniet!

Hemelse Vader, ons prys U heilige Naam -
terwyl ons in vertroue met U Woord omgaan
Ons wéét U beloftes bly ewig waar -
wyl ons in stilwees en vertroue met U, in ons lewensboot vaar.