Poetry

Gedigte

     
     
 

Vreugde die vrug van pyn - Isebell Gauche

 
 

Jesus het self kon kies
deur watter wyse
Hy redding sou bring

As Hy dan pyn
gekies het om God
te verheerlik,as dit dan Sy
voorloop tot vreugde sou wees
hoe dan, kan ek
dit smaad wat God oor my
lewenswandel stuur -
as ek dan gered kon word deur rykdom
- dan was ek vandag
verewig verlore want
wie wat weet dat rykdom hulle redding is
sou dit wou deel?
As ek gered kon word
deur beeldskoonheid sou ek
soos talle ander
nou reeds die aftog moes blaas
want sowaar die jare stap aan
met fyn spore op my gelaat om dit te bevestig

As ek dan tot volle heerlikheid kon kom
en God in Sy kompleksiteit ken sonder
om 'n enkele traan te stort,
hoe dan sou ek 'n kindjie kon troos
'n vriend kon opbeur,
verlatenheid kon wegweer met
sterwe van iemand se geliefde?

Hoe eensydig sou my karakter nie wees
as ek net oorvloed sou smaak
Ek sou wees soos 'n boom
wat skeefgroei met vrugte
net aan die suidekant

Die liewe Vader laat dikwels pyn toe
nie omdat Hy wreed is nie, maar
omdat Hy weet dat vreugde gebore uit pyn,
die vrug van liefde dra wat die wêreld oorwin
en van ons ware omgee mense maak.