![]() |
|
Van Verhale
en Glories - Thea Klopper
|
|
Met 'n groot knop in my keel en 'n lastige traan wat my visie versper, wuif ek toe gister my beste vriendin totsiens. Dis die tweede goeie vriendskap in 'n ry wat sy vlerke sprei en oor die see vlieg om die wil van God vir hulle lewens anderkant die groot waters te gaan najaag. Onwillekeurig kom die boek se titel "Left Behind" by my op, maar ek skud dit af... die wegraping kom nog! "Eerder soos die einde van 'n goeie, boeiende storieboek", besef ek dan. "Dis soos om vir weke, maande, jare lank 'n goeie storieboek te lees. Een vol lewenslesse, hartseer, vreugde, blydskap en trane. En dan kom jy op 'n dag, net as jy op jou lekkerste lees, op die laaste blad en jy vou die boek met 'n sug toe. En elke goeie boek laat jou met stof tot nadenke. Maar jy besef ook dat elke luilekker leesboek het 'n begin, middel en dan tog ook 'n einde. Alle verhoudings is soos storieboeke. Die skrywer begin die boek met entoesiasme, opgewondenheid en hopeloos te veel detail oor die karakters. Die helde word in byvoeglike naamwoorde geskilder en die agtergrond word uitgelê. Dan volg 'n uitgerekte hoofstuk of drie met so hier en daar 'n aksietoneel, maar meestal het die middel net gemaklike niksdoen dae waar die karakters verveeld rondslenter. Af en toe volg 'n woordewisseling of argument, maar dis van korte duur. En dan...wanneer die storielyn se intriges afgeplat het en jy inskuif tussen die kussings en gemaklik raak met die streling van 'n heerlike gelukkige storieplek...die einde! Onverwags...te gou...jy sou nog verder wou weet... Gelukkig vandat God in ons lewens gekom het, is ons soos storieboeke - goeie opbouende leesstof. En soos ek die storieboek van my avontuurlike, sagte musikant vriendin neersit, kan ek glimlag en 'n oomblik neem om die inhoud van die storie te oordink. En saam met die nostalgie dat God besig is om soos 'n briljante Skrywer die volgende verhaal in ons realiteit in te bring voor publikasie. Want al is hierdie seisoen by die finale afronding, kan ek 'n afwagting voel groei in my binneste. God het 'n nuwe hoofstuk in ons lewens begin. En ek blaai vandag die voorblad oop en nestel my dieper in my gemakstoel in en lig my voete oor die armlening. Dis tyd vir 'n nuwe boek en ek kan nie wag nie. Dink net - die nuwe een sal soos God in Sy Woord sê, my van glorie tot groter glorie moet neem om die pas -gelese een se kwaliteit en standaard te klop.
|