![]() |
Jesaja 55:11 "so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur" |
|
Inspirasie
|
|
Ware Vriendskap Matt:26:31 " Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word." Mark. 14:66-72, Matt. 26:48-49, 56. Jesus self is deur Petrus, Johannes verloën en deur Judas verraai. Petrus het ontken dat Hy Jesus ken, Johannes het nie geantwoord nie en Judas het Hom met die kus van 'n vriend verraai. Hy het vergewe en vergewe ons daagliks, Hy ken die seer van verraad en daarom dat Hy jou hartseer begryp en kan wegneem. Here, leer my vandag om te vergewe soos U. Dit gebeur dat selfs jou beste vriend jou so seer kan maak dat vergifnis moeilik blyk te wees. Neem dit na Jesus, praat met Hom daaroor - oor die seer, verwerping en soms ook vernedering. Mense naaste aan ons maak ons dikwels die seerste, soms met opset en ander kere sonder dat hulle daarvan bewus is. Weet dit, Jesus is en bly jou beste vriend, Hy vra nie die onmoontlike van jou nie, Hy lei jou nie op 'n pad wat Hy nie reeds geloop het nie en Hy versaak jou nooit. Sy lyn is nooit beset nie en jy skakel of kuier nooit op 'n ongeleë tyd nie. By Hom is jy altyd welkom en Hy sal jou nooit wegwys nie. Klop by Hom aan - Hy sal oopmaak. Hy het altyd raad, altyd troos en geen oordeel. Hy klop ook by jou aan, maak jy asof jy nie tuis is nie? Skuif jy Hom eenkant toe wanneer iets nuuts jou aandag trek? Igonoreer jy Sy boodskappe? Wys jy Hom ooit genoeg hoeveel Hy vir jou beteken? Nooi jy Hom om saam met jou na plekke te gaan? Vriendskap werk net wanneer dit van twee kante kom, om 'n lewende verhouding met die Here te hê, beteken om nie net van Hom te ontvang nie, maar ook aan Hom terug te gee. Dit beteken om tyd te maak met Sy Woord, om te luister en met Hom te gesels. Moenie dat Hy altyd eerste by jou aanklop nie, maar klop ook gereeld by Hom aan. Hy bly nie weg nie, Hy beantwoord jou boodskappe met liefde en geduld, Hy vertel jou van Sy beloftes en planne vir jou. Moenie jou planne net vir jou self hou nie, bespreek jou drome, planne en daaglikse lewe met Hom. Wie weet, Hy wil dalk vandag jou waarsku oor verkeerde planne, vir jou wys hoe om jou drome binne Sy wil te laat waar word. Nog meer nog, Hy maak dit vir jou waar. Hy het vertroue in jou, wanneer niemand anders het nie en wanneer jy faal, draai Hy nie weg van jou nie, maar tel jou op. Sou jy dalk 'n gemors maak van die vriendskap omdat jy liggeraak opgetree het, is Hy getrou om jou te vergewe - wanneer jy berou. Wanneer ons verhouding met Jesus reg is, sal dit ook bepaal hoe ons teenoor ons vriende optree. Ons sal hulle vergewe, hulle dra, hulle altyd verwelkom, raad gee, 'n skouer om op te huil en 'n sakdoek om die trane mee op te droog. Ons sal hulle idees aanhoor en eerlik met hulle wees. Ons sal bemoedig en nie afbreek nie, ons raad gee en nie oordeel nie. Ons sal hulle foute aanvaar omdat ons weet dat ook ons foute het. Ons sal hulle eerbied betoon, vertrou en rede gee om ons te vertrou. Ons sal nie sonder meer belangstelling verloor nie. Ons sal ook aan hulle wys dat hulle saak maak, 'n oproep, boodskap, brief, kuier en uitnodiging. Ons sal vir mekaar bid en nie so vinnig wees om hulle een kant toe te skuif wanneer ons besig raak nie. Toestemming word verleen vir herdruk en verspreiding, op voorwaarde dat onderstaande woorde daarby verskyn Toestemming is deur Glory2Jesus verskaf vir herdruk van hierdie artikel. Besoek ons blad by http://www.Glory2Jesus.co.za vir nog christelike leesstof. Geen veranderinge mag aan die inhoud gemaak word sonder die toestemming van die skrywer nie. Geskryf deur Glory2Jesus personeel.
|